Munsterland Namibia Troue | Gerrit en Yvonne

Namibia Wedding Photographer and Videographer

Vroeër die jaar kry ek ‘n oproep van Gerrit en Yvonne. Hulle trou in Outjo in Namibië en is op soek na ‘n fotograaf en videograaf.

Ons was baie opgewonde daaroor want ons besluit toe sommer ons gaan die week voor en na die troue gebruik om bietjie deur Namibië te toer.

Hierdie was die verste wat ons nog vir ‘n troue gery het. Net so onder die 4000km, maar dit was nou absoluut die moeite werd. Hierdie was net een van DAARDIE troues.

Die paartjie is pragtige mense van binne en buite, die venue en die kos was fantasties en die familie en vriende is almal gawe vriendelike mense.

Ons het te heerlik gekuier saam met Gerrit en Yvonne en hulle mense.

Munsterland is die plek waar die troue gehou is. Danjan en sy vrou Anita is die eienaars van die plaas en die venue. Ons was BAIE aangenaam verras met hulle, ons hoop ons kan nog baie troues daar hou. Die venue is gebou op hulle familieplaas en dis oorspronklik gebou vir hulle dogter se troue. As jy van vriendelike boere gasvryheid hou waar jou vriende ook kan bly en julle saam kan kuier is Munsterland definitief jou plek.  Ons het die aand heerlike skaap op die spit ge eet.

Yvonne se oupa het haar Lady genoem en het vir haar ‘n borsspeld gemaak van koperdraad wat die woord “Lady” vorm. Duidelik iets van onskatbare waarde vir haar. En die tipe ding wat jou laat besef dat vriende en famile vir Yvonne saakmaak. Sy het dit aan haar rok vasgesteek, en toe net na die kerk erens verloor. Gelukkig het hulle na ‘n vreeslike soektog dit die volgende dag gevind.

Die kerkdiens was vir Yvonne en Gerrit VREESLIK belangrik, vir hulle was dit die hoogtepunt van die troue om voor almal trou aan mekaar te belowe. Hulle het selfs persoonlik vir almal nagmaal in die kerk bedien en Yvonne se pa het vir hulle ‘n pragtige lied gesing.

Na die kerk het ons op die pragtige plaas rondgeloop en die fotos geneem van die paartjie, die probleem met Munsterland is egter dat dit SO baie mooi plekke het dat jy eintlik etlike ure nodig het vir ‘n “photoshoot”, en ons het net ‘n uur gehad.

Die aand was sommer net ‘n lekker kuier (en eet) die toesprake was so mooi dit het ‘n hele paar mense in trane gehad.

Ons was die week na die troue in die selfde omgewing as die twee (Swakopmund) en het toe sommer nog ‘n shoot met hulle gaan doen in die Namib se duine. Hulle het toe darem die kans gekry om weer ‘n keer hulle trouklere aan te trek.

Gerrit en Yvonne. Dit was ‘n fantastiese voorreg om julle fotograaf en videograaf te wees, maar dit was nog ‘n groter voorreg om julle as mense te leer ken.

Ons bid dat God julle lewens en huwelik ryklik sal seën.

JC, Surika en Miya Crafford.

Related Posts